home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Gewasse, groente: 4

Algemene riglyne vir die verbouing van spanspek Engels | Xhosa

Spanspek was oorspronklik ’n woestynplant en dit speel ’n rol in baie van die reaksies daarvan op sekere verbouingspraktyke. Byvoorbeeld, spanspeksaad ontkiem beter in grond wat net klam is as in nat grond. Spanspek ontkiem ook beter onder warm toestande.

Moet direk gesaai of uitgeplant word?

Albei metodes het voor- en nadele. Indien die saad nie baie duur is nie en die grondtemperatuur vir ontkieming is gunstig, sal direk saai waarskynlik beter wees.

Die saad word sowat 2 cm diep gesaai teen sowat 2,5 kg per hektaar.

’n Spasiëring van 30 - 45 cm in die ry en 120 - 150 cm tussen rye word aanbeveel.

Vloedbesproeiing word verkies om blaarsiektes tot die minimum te beperk. Besproeiing voor planttyd tot op ’n diepte van ± 1 m word aanbeveel. Behalwe in die blomstadium is onderbesproeiing minder gevaarlik as oorbesproeiing. Onderbesproeiing lei tot kleiner plante, ’n vroeër vrugset en kleiner vrugte, maar met ’n hoër suikerinhoud. Oorbesproeiing lei tot wortelsiektes, geil groei en probleme met swamsiektes, swak en laat blomvorming en groot vrugte met ’n lae suikerinhoud.

Die volgende kan as bemestingsriglyne geld:

Vir vroeë cultivars soos 'Early Sweet' of 'Early Dawn' met ’n kort groeiseisoen word sowat 500 kg 2:3:4 (33) met planttyd toegedien. Sowat twee weke later ’n 100 kg 1:0:1 (36) en na ’n verdere twee tot drie weke nog ’n 100 kg 1:0:1 (36).

Organiese bemesting moet met oorleg toegedien word. Swaar toedienings van hoendermis kan tot ’n baie geil groeiwyse en ’n tekort aan vroulike blomme lei.

Soos alle rankgewasse vorm spanspek eers manlike blomme en vroulike blomme sowat 10-14 dae later. Waar te veel stikstof toegedien is, groei die plante geil en vorm slegs manlike blomme. By die meeste spanspekcultivars vorm die vroulike blomme slegs op die syspruite. Onder toestande van geil groei mag dit nodig wees om die groeipunte van die ranke te snoei om syspruit-ontwikkeling te stimuleer. Die 'top' van ranke moet net gedoen word indien nodig. Manlike blomme is geneig om naby die groeipunte te vorm en onnodige of te strawwe 'top' kan tot ’n stuifmeeltekort lei. Gewoonlik sal die uitknip van slegs die groeipunte wat maklik bereikbaar is, voldoende wees.

Snywurms en pampoenvlieë is die algemene insekprobleme.

PP Brink
ELSENBURG / NOORDWESTE LOS