home about contact us news

Home: INFORMATION PACKS


Span trekdiere en -perde só in

Also available in English | Xhosa

Tuigstelsels

Drie basiese tuigstelsels word gebruik:

Broek

Die rieme van die drie tuie gaan om die perd of donkie se agterkwart. Gewoonlik is daar twee rieme - een bo-oor die agterkwart en een agterom. Dié riem moet nie só styf wees dat dit teen die stert druk nie, en ook nie só laag dat dit teen die hakke of die waai van die been skuur nie. Dié riem dien as rem wanneer die kar stop, en sorg dat dit nie teen die dier bots nie.

Moderne kompetisietuie is ’n kombinasie van die verskillende soorte. Dié tuie en karre is ideaal vir skoudoeleindes, maar is te ingewikkeld en duur vir daaglikse gebruik deur eienaars van trekdiere wat hul donkies of perde gebruik om ’n bestaan te maak deur water en hout te vervoer of hul kleinhoewes te ploeg. Eenvoudiger tuie is dus nodig.

Tuigteorieë

’n Goeie tuig bring die trekenergie regstreeks en op die doeltreffendste manier van die dier na die kar of implement oor. Indien die stringe aan beide kante nie ewe lank is nie, trek die dier ongelyk. Beserings word veroorsaak deur skerp rande aan die tuig of disselbome. So byvoorbeeld word tuie dikwels met draad reggemaak waarvan die skerp punte diere kan beseer. ’n Goeie tuig behoort nie rond te skuif nie aangesien dit die vel skaaf en tuigsere veroorsaak. Die tuig moet nie gedraai wees nie maar plat oor die lyf se rondings lê. Die materiaal moet soepel wees en nie hard of styf nie.

’n Stywe tuig kan die bloedvoorraad na die weefsels afsny. Dit moet die dier toelaat om vry asem te haal, te urineer en te mis. ’n Tuig moet nie teen die lugpyp aan die voorkant van die nek druk, of die slagaar aan die kant van die nek toedruk nie. ’n Tuig moet breed genoeg, en opgestop wees om die trekkrag te versprei, eerder as om dit op een punt te konsentreer. Dun rieme of toue kan in die dier se vel sny. Tuie moet só ontwerp word dat dit op die gespierde dele van die lyf rus, en nie op bene wat net deur vel bedek word nie. Die spiere dien as ’n kussing en verhoed druksere. Die gewig moet ook nie op die lendedeel of nek druk nie want dit het nie noemenswaardige onderliggende bene wat steun kan bied nie. Die twee sterk spiere aan beide kante van die ruggraat, net agter die skof, het stewige spierkussings met onderliggende beensteun en is die beste plek om gewig te dra.

Waar sweet onder die tuig versamel, het dit velinfeksie tot gevolg. Die materiaal van die tuig behoort dus die verdamping van sweet toe te laat. So byvoorbeeld is opstopsels van plastieksakke nie geskik nie. Verder laat sweet ook die tuig verrot. Gevolglik moet dit van ’n materiaal wees wat maklik skoonmaak - tuie moet weekliks skoongemaak word, en meer dikwels as dit sweet- of modderbesmeer is. Leertuie moet met leerolie behandel word om te sorg dat dit sag en droog bly.

’n Tuig moet maklik en reg aangesit en afgehaal word. Min gespes is verkieslik. Die kar moet korrek gebalanseer wees, veral as dit net twee wiele het. Indien al die gewig op die voorkant van die kar rus, dra die dier dit op sy rug en kan dus nie sy energie en krag gebruik om die kar te trek nie. Indien al die gewig op die agterkant van die kar rus, word die dier as't ware opgetel! Daarom behoort die gewig op die wiele gedra te word.

Die trens en toom moet goed pas. Die trens behoort sowat ’n sentimeter langer as die breedte van die dier se bek te wees en só pas dat dit nie teen die tande stamp nie. Op sy dunste moet die trens minstens 1 cm dik wees. Die kenband is die deel van die toom wat losserig onder die dier se ken pas. Wanneer vasgetrek, behoort minstens twee vingers daarin te pas, sodat dit nie teen die lugpyp druk nie wanneer die dier sy kop laat sak om te trek. Die leisels moet ewe lank wees, en tussen twee diere moet die leisels lank genoeg wees sodat hul koppe vry kan beweeg. Geen deel van ’n toom mag die dier se asemhaling belemmer of in die oë steek nie. 

As ’n donkie of perd reg ingespan is, en die tuig skoon en gemaklik is, sal die dier gewillig en goed werk.

CME McCrindle
ELSENBURG/ONDERSTEPOORT