| Inligtingstukke | | | Elsenburg infopaks | | | Diere, siektes: 4 |
![]() Kliek om te vergroot! |
Bloutong is seisoengebonde en kom in die middel somer en herfs voor, totdat die eerste ryp val. Die bloutongvirus oorwinter veral in beeste.
Inheemse skaaprasse soos die Namakwa-Afrikaner, en Asiatiese rasse soos die Swartkoppersie en die Karakoel, is minder vatbaar vir bloutong. Europese rasse soos die Merino, is weer baie vatbaar. |
Bloutong word deur muggies oorgedra wat veral in die laaggeleë dele by riviere en vleie uitbroei wanneer dit vogtig en warm is.
![]() Kliek om te vergroot! |
Die simptome is die volgende:
Koors, lusteloosheid, aptytverlies en vinnige asemhaling is algemene simptome van bloutong. Die slymvliese van die oë, neus en bek word rooi en die lippe begin swel. |
![]() Kliek om te vergroot! |
Die slymvliese van die bek en die tong kry later n blou-rooi kleur en vlak seertjies kom op die bekslymvlies voor waar dit oor die tande skuur, asook in die neusslymvlies. Die blou verkleuring van die tongslymvlies het tot die naam "bloutong" aanleiding gegee. Wanneer die onderste en die boonste lip met die vingers vasgevat en omgedop word, kan die seertjies duidelik gesien word. |
Weens die degenerasie van die spiere, word dikwels gevind dat die nek van so n skaap later krom trek. As gevolg van die ontsteking in die neusslymvlies is die neusgate vuil en aangepak sodat die skaap moeilik asemhaal.
![]() Kliek om te vergroot! |
Hoefkroonontsteking kom voor waar die hoef aan die vel heg. Gevolglik is die skaap styf en loop hy moeilik. Sy poot kan só seer word dat die dier op sy knieë probeer loop
en uiteindelik bly lê.
Hoefkroonontsteking kan gesien word as n rooi lyn waar die vel aan die hoef heg. Dit is duideliker sigbaar aan die agterkant van die hoef. Om die hoefkroononsteking duidelik te kan sien, moet die hoef deeglik met n nat lap skoongemaak word. Die ontsteking is ook duideliker sigbaar by n ligte hoef as by n donker een. |
Wat behandeling betref:
Die skaap se bek en tong is gewoonlik te seer om te vreet en sy pote te seer om te loop en kos te soek. Die eerste behandeling is dus om die diere in n klein kampie te sit waar skaduwee, groenvoer en water naby is. Hulle moet so min moontlik hanteer word. Koorswerende middels en pynstillers (byvoorbeeld aspirien) kan ook gebruik word.
Ten opsigte van voorkoming moet die boer op die volgende let:
Lammers verkry passiewe immuniteit deur die bies van die ooi en moet verkieslik nie vóór 6 maande ouderdom teen bloutong geënt word nie. Ramme moet die laaste inenting 2 maande voor die dekseisoen kry. So nie, moet hulle ná die dekseisoen geënt word. Ooie behoort die laaste inenting teen bloutong nie later nie as 3 weke voor die dekseisoen te kry. As bloutong uitbreek en skape nie geënt is nie, kan ooie wat 3 maande en langer dragtig is, met redelike veiligheid geënt word.
![]() Kliek om te vergroot! |
Gaan baie versigtig te werk tydens uitbreke. Steriliseer (kook) die spuitnaald ná elke inenting sodat die siekte nie van skaap tot skaap oorgedra word nie. Verskuif skape by vleie na hooggeleë gebiede. Hou die skape saans onderdak. Bespuit die diere met n insekwerende middel of dip om muggies weg te hou. |
G Brand
ELSENBURG Veeartsenydienste