home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Diere, siektes: 3

Bloednier Engels | Xhosa

Vee word beskou as die stabiliserende faktor in ’n gemengde boerdery. Om veesiektes te kan beheer, lê dit voor die hand dat die veeboer moet weet waarmee hy te kampe het.


Kliek om te vergroot!
Bloednier is een van die belangrike siektes waarvan die boer kennis moet dra.

Vrektes as gevolg daarvan is ’n algemene en gereelde verskynsel. Bloednier word oral ter wêreld gevind waar met skape geboer word. Dit kom ook by bokke voor.

Een van die Engelse name vir bloednier is "overeating disease"! Die toestande wat tot bloednier kan lei, is dikwels die gevolg van diere wat hulle ooreet.

Die kiem wat bloednier veroorsaak, kom normaalweg in die dermkanaal voor. Indien daar ’n versteuring in die dermkanaal van die skaap is, vermeerder die bloednierkieme en skei dit meer gifstof af, wat lei tot vrektes.

Die volgende faktore kan steurings in die maagdermkanaal veroorsaak:

  • Wanneer skape van ’n afgeweide kamp na een met beter weiding verskuif word.
  • Wanneer skape van die veld na aangeplante weiding, byvoorbeeld lusern, oorgeplaas word.
  • Wanneer die skape in ’n voerkraal gesit word.
  • Wanneer die skape vir droogte gevoer word, sonder geleidelike aanpassing (daar word byvoorbeeld met te veel mielies per skaap per dag weggeval.)
  • Die gebruik van sekere middels, soos wurmmiddels, wat skape meer laat vreet.

Kliek om te vergroot!
’n Bloednierskaap toon gewoonlik nie opvallende simptome nie. Die dier vrek net skielik - gewoonlik vrek die vetste skape eerste. Elke oggend word ’n paar skape in die kamp dood aangetref. ’n Tipiese verskynsel is dat groot vrektes voorkom net nadat die diere van voeding verander het.

Met die chroniese vorm van bloednier is siek skape egter opvallend. Die teikenorgaan is in dié geval nie die nier nie, maar wel die brein. Die diere toon tekens van verlamming, die bene is pap en dit lyk of die skape in ’n koma is.

Hoe vind behandeling plaas?

  • Die eerste stap wanneer skape begin vrek en bloednier vermoed word, is om oormatige voedselinname te voorkom.
  • Verskuif veldskape na ’n swakker kamp en verminder voerkraalskape se koolhidraat-inname. Spuit dan dadelik teen bloednier. Ná behandeling kan vrektes nog sowat 11 dae lank voorkom.
  • Doseer die skape met ’n teelepel (gelykvol) blomswawel.
  • Skape wat met ’n langwerkende tetrasiklien gespuit word, is ’n paar dae teen bloednier bestand totdat enting die diere beskerm.

Wat voorkoming betref, is dit jammer dat daar steeds so baie gevalle van bloednier in Suid-Afrika voorkom, ondanks die goeie entstowwe wat beskikbaar is.

Boere moet besef dat telkens wanneer hulle die voeding van skape verander, hulle eintlik ’n aanslag maak op die diere se weerstand teen bloednier. Om hierdie rede kan boere in die ekstensiewe skaapweistreke hul volwasse skape net eenkeer per jaar met die aluin-entstof ent.

In dele waar saaiery, aangeplante weidings en volop veldweiding is, moet die skape meer dikwels geënt word. Dit kan selfs nodig wees om skape wat tussen aangeplante weiding en voerkrale gewissel word, meer dikwels te ent.

G Brand
ELSENBURG Veeartsenydienste