home about contact us news
Inligtingstukke   |   Elsenburg infopaks   |   Gewasse, groente: 2

Uieplantjie produksie Engels | Xhosa

Kliek om te vergroot!
Die plant en oes van uie begin by die plantjie. Daarom is dit noodsaaklik dat daar vooraf beplan word voor die uiesaad gesaai word.

Uie is een van dié plante wat deur daglengte beïnvloed word. Daarom is dit nodig om rondom 15 Mei te begin saai. Indien jy te vroeg saai, kry jy te veel bolle wat saad skiet en as jy te laat saai, in Junie byvoorbeeld, is saadskiet en ook te veel klein uiebolle die gevolg.

Die volgende is belangrik:


Kliek om te vergroot!
Die saadbed

Eerstens is dit belangrik om die grond waarop uie verbou gaan word, te ken.

Watter gewas is vooraf op die grond verbou?

Was daar enige probleme met siektes of ander probleme?

Party siektes wat by ander groentes voorkom, val uie aan. Soek die geskikste plek.

Stel vas of die grond nie suur of brak is nie. Uie groei swak in suur- of brakgronde. ’n Soeterige grond is wenslik. U voorligtingsbeampte kan u raadgee.


Kliek om te vergroot!
Geen poeletjies water moet op die grond bly staan nadat dit gereën het of na besproeiing nie. Om dit te voorkom, is dit noodsaaklik dat die bedding ongeveer 15 cm gelig word om water uitvloei te verseker.

’n Fyn, egalige bewerking is noodsaaklik sonder om die grond te verpoeier, want dan kan die grond verdig en saad swak opkom. Haal al die growwe onkruide, kweek en ander dooie plante met ’n vurk uit.

Maak die beddings 1 meter breed by 10 meter lank. Dié grootte saadbedding saai makliker en is ook makliker om nat te maak met ’n gieter. Dit vergemaklik ook onkruidbestryding. Na al hierdie voorbereiding kan ons nou begin saai.


Kliek om te vergroot!
Saai

Trek rytjies dwarsoor die bedding. Dit moet ongeveer 2-3 cm diep wees (nie dieper nie), en 15 cm van mekaar af.


Kliek om te vergroot!
Saai ongeveer ’n gelykvol teelepel saad in elke rytjie so egalig as moontlik. Hark daarna die rytjies toe met ’n gewone tuinhark. Te dik saai laat plante maklik siek word en gee dun, swak plantjies.

Kliek om te vergroot!
Die spasie tussen die rytjies is nodig om onkruid uit te trek en veroorsaak ’n lugbeweging wat siektes voorkom. Onthou die saadbedding is die fondament van ’n suksesvolle uieboerdery.

P Coetzee
ELSENBURG / LNR Groente en sierplante