home about contact us news

Home: Information sheets

Is jou dier siek?

Also available in English | Xhosa

Voordat ’n mens kan besluit of jou dier siek is, moet jy weet hoe ’n gesonde dier lyk. Dis dan makliker om veranderings in die dier raak te sien wat deur siekte veroorsaak word. As jy dié veranderings (wat ons "simptome" noem) nie raaksien nie, kan die dier doodgaan voordat daar tyd was om behandeling toe te pas. Bekyk jou diere dus goed, veral hoe hulle beweeg, eet, drink en optree. Kyk na al die dier se liggaamsdele. As iets verander, is dit miskien omdat die dier besig is om siek te word.

Eet die dier? Dis die eerste vraag. Siek diere vreet gewoonlik nie. Maak seker ’n dier wat kop onderstebo staan, laat hang die kop nie maar net nie, maar byt, kou en sluk kos. Diere met hondsdolheid sluk byvoorbeeld nie die kos nie, maar sal dinge byt. Sommige diere met ’n abses in die bek, of swak tande, sal probeer vreet, maar kou die kos nie behoorlik nie. Kos val dalk uit die bek.

In die geval van herkouers soos beeste, skape en bokke word kos weer na die bek toe gebring nadat dit gekou is, en dan weer ingesluk. Ons noem dit "herkou". Een van die eerste tekens van siekte by ’n koei, skaap of bok is dat hulle nie herkou nie. Sommige siektes waarvan dit die heel eerste teken is, is rooiwater, hartwater, anaplasmose, draad in die hart en plastieksakke in die pens.

Suip die dier? Hou fyn dop en kyk hoe dikwels die dier suip. Maak seker die water word ingesluk. By beeste en perde pak die kos soms in die slukderm vas, en dan loop die water weer by die bek uit. Kleiner diere soos kuikens en varkies kan dalk nie by die water bykom wat jy uitgesit het nie. Een manier om te bepaal hoeveel die dier suip, is om die watervlak in ’n drom of houer soggens te meet, en dan later weer. As jy dit weer tot heel bo volmaak, is die hoeveelheid water wat daarvoor nodig is, gelyk aan wat die dier gedrink het.

Beweeg die dier gemaklik? Kyk of al die pote eenders beweeg. Kyk of die nek, lyf en kop nes ander diere s’n beweeg. Die dier is dalk lam - hy gebruik een of meer van sy pote miskien nie behoorlik nie. Bekyk die pote goed en stel vas wat fout is. As die dier op drie pote loop, is daar iets ernstigs verkeerd - een van die bene is miskien gebreek.

Is die vel en hare normaal? Gesonde diere het gladde, blink hare. Let op of die vel jeukerig is en rooi kolle en kaal kolle op het. By diere kan dit ’n teken van omloop of brandsiekte wees. Skape met brandsiekte trek aan die wol, wat dan baie klosserig lyk. Die vel van diere wat nie al die nodige proteïene en vitamiene in die dieet kry nie, of dié van diere met interne parasiete, is gewoonlik grof en vaal.

Hoenders se vere moet glad en blink wees. Siek hoenders pof hul vere uit. As hulle velsiektes het, sal hulle ook sommige van die vere uittrek. Swak voeding kan hoenders met abnormale vere tot gevolg hê. As ’n hoender geen vere aan die nek het nie, is dit nie noodwendig ’n teken van siekte nie, want sommige hoendersoorte het ’n kaal nek.

Is daar enige wonde aan die dier? Kyk en voel goed oor die hele lyf. Soms is dit moeilik om ’n wond raak te sien, omdat dit met ’n roof bedek is, of omdat die hare daaroor geklont is. Maaiers kan by ’n klein wond inkruip en ’n groter wond onder die vel veroorsaak.

Is die mis normaal? Eienaars behoort te weet hoe hul dier se mis normaalweg lyk en ruik, en watter kleur dit is. ’n Skaap met sagte mis soos ’n koei s’n het byvoorbeeld waarskynlik diarree, want gewoonlik mis skape klein korreltjies. ’n Koei wat soos ’n donkie mis, is waarskynlik hardlywig, en het moontlik anaplasmose onder lede. Heldergeel mis word gewoonlik deur ’n infeksie veroorsaak, en bloed in die mis is altyd abnormaal.

Is die water normaal? Let op hoe ’n dier water, en watter kleur dit is. Bruin of rooi water kan ’n teken van rooiwater by beeste, perde en honde wees. Water wat soos melk of vla lyk, is ’n teken van ’n ernstige blaas- of baarmoeder-infeksie. Koeie met ’n infeksie nadat hulle gekalf het, skei soms etter deur die vulva uit wanneer hulle mis - ’n mens sien dit as ’n plas etter bo-op die mis.

Tree die dier normaal op? Gesonde diere is lewendig en waaksaam. Hulle sien wat om hulle gebeur. Vreemde gedrag soos oormatige speekselafskeiding, aggressie, al in die rondte loop, gedurige geluide of snaakse dinge vreet kan tekens van siekte wees. Siektes wat vreemde gedrag veroorsaak, is onder meer hondsdolheid by alle diere, hondesiekte, fosfaattekort by beeste, en breinabsesse (alle diere).

Is daar eksterne parasiete? By talle diere is bosluise ’n probleem - hulle dra siektes en kan absesse in die ore en uiers veroorsaak. ’n Paar bosluise help egter sorg dat die dier immuun bly. Vlooie kan velsiektes en jeuk by honde veroorsaak. Myte en luise is baie klein insekkies, en jy moet baie goed kyk om hulle raak te sien - sommige is net onder ’n mikroskoop sigbaar.

Is daar interne parasiete? Wurms en ander parasiete kan diere baie swak maak. ’n Mens sien hulle nie altyd in die mis nie, maar wanneer die dier geslag word, is hulle in die ingewande. ’n Mens kan die mis vir ontleding na ’n veeartsenylaboratorium neem om wurms te diagnoseer deur wurmeiers te soek.

Is die dier te maer? ’n Veel maerder dier as die res van die trop is waarskynlik siek. As al die diere maer is, is daar waarskynlik ’n voeding- of bestuursprobleem. Eienaars wat weet hoe om hul diere ’n "kondisietelling" te gee, kan hul bestuur verbeter en verhoed dat die diere weens wanvoeding vrek.

Is al die liggaamsdele normaal? Kyk na die nek - klop daar ’n pols waar daar nie een moet wees nie? Daar is dalk draad in jou koei se hart. Is een been meer geswel as die ander, of dalk baie dunner? Kyk na die uier - is al die kwarte dieselfde, of is een groter en meer geswel? Is enige ander deel van die lyf geswel, pynlik of onewe? As jy so iets raaksien, moet jy deeglik kyk om die oorsaak te probeer bepaal.

As jou diere enige van bogenoemde simptome toon, moet jy probeer vasstel watter siekte dit veroorsaak. Jy moet dalk ’n veearts of dieregesondheidstegnikus (dgt) skakel wat jou raad oor behandeling vir die dier kan gee. Onthou - dis belangrik om jou diere goed te ken en hulle elke dag goed dop te hou. As jy weet hoe ’n gesonde dier lyk, is dit makliker om te sien wanneer die dier siek word.

CME McCrindle
ELSENBURG/Onderstepoort