home about contact us news

Home: Information sheets

Ons kosbare bodem

Ook beskikbaar in: Engels | Xhosa

In algemene taal word na die grootte van grond verwys as ’n akker, lappie, bladjie, morg of hektaar.

Die mees algemene verwysing na grond se grootte is ’n hektaar. Een hektaar is omtrent so groot soos ’n rugby- of sokkerveld en beslaan 10,000 vierkant meter.

Die toediening van kunsmis of besproeiing word gewoonlik teen ’n sekere hoeveelheid per hektaar gedoen en enige gewas word gewoonlik teen ’n sekere aantal plante per hektaar geplant.

Die aantal diere wat per hektaar aangehou kan word, of die opbrengs van ’n gewas per hektaar, gee ’n goeie idee van grond se relatiewe vrugbaarheid.

Dit is so dat daar verskillende grondsoorte voorkom, byvoorbeeld klei-, leem- en sandgronde.


Sandgronde

Bestaan uit sigbare los korrels en is baie vatbaar vir wind en watererosie. Sandgronde bewerk baie maklik en gee ’n baie goeie saadbed vir ontkiemende saad en jong plante. Die gronde het gewoonlik ’n swak waterhouvermoë en lae vrugbaarheid.

Kleigronde

Dit bestaan uit baie fyn deeltjies wat in ’n nat toestand aanmekaar klou en smeer met bewerking. As dit droog bewerk word maak dit groot kluite en gee ’n swak saadbed wat maklik toeslaan. Dit neem stadig water op en versuip maklik in die winter.

Leemgronde

Dit word as ideaal beskou en is sonder die swak eienskappe van sand en klei. Dit bewerk maklik, dreineer goed, gee ’n goeie saadbed en het ’n krummelrige voorkoms.


Wanneer daar ’n gat in die grond gemaak word en dit word van die kant af gesien, word daar verskillende grondlae met verskillende diktes, dieptes, kleure, tekstuur en struktuur gesien.

Hierdie totale prentjies is die profiel van die grond. Die beskrywing van die gelaagdheid en ander eienskappe staan bekend as die morfologie daarvan.

Byvoorbeeld, die boonste bewerkte deel van die grond is die ploeglaag van die profiel. ’n Potkleilaag kom dikwels dieper in die profiel van die grond voor. Ondergrondse klei moet nie met bogronde gemeng word nie. Die klei van ondergrond meng nie goed met die bogrond nie en gee ’n swak saadbed.


Nat of versuipte gronde ontstaan gewoonlik in die winter as daar meer water op ’n grond kom as wat kan insak of wegdreineer - swaar reëns kan die oorsaak wees.

Dit gaan ook saam met ’n verdigte kleilaag wat vlak onder die bogrond voorkom en ondeurdringbaar vir water is. Soms kom dit voor in laer posisies waar afloopwater bly staan.


’n Ander oorsaak van versuipte gronde is sugwater uit besproeiingsdamme of kanale waar water op die kleilaag beweeg en op vlakker plekke uitslaan. Plante versuip as gevolg van swak deurlugting en ’n gebrek aan suurstof.

Die enigste manier om hierdie probleem op te los is om van die oortollige water ontslae te raak. Dreinering van die grond deur oop vore of slote, ondergrondse dreineringspype of die maak van beddings is metodes wat met die meeste sukses gebruik word.

’n Ander algemene probleem is die voorkoms van brakgronde. Brakgrond is enige grondsoort waarin ’n oormaat van oplosbare soute voorkom. Dit kom gewoonlik onder baie droë klimaat voor soos by Oudtshoorn of Vredendal.

Dikwels kom dit ook voor in swak gedreineerde en laagliggende posisies.

Soutdraende moedergesteentes waaruit grond ontstaan kan oorsprong gee aan brakgronde. Sout besproeiingswater of sugwater kan brak veroorsaak, asook die gebruik van té veel kunsmis.


Daar is net een manier om brakgrond te verbeter - die gronde moet gedreineer word en die braksoute moet met goeie kwaliteit besproeiingswater uit die grond gewas word.

Na verloop van hierdie proses kan ontledings aandui tot hoe ’n mate die grond verbeter is.

Dit is belangrik dat gronde ontleed moet word voordat enige bemesting geskied.


Ontleding van grondmonsters word by laboratoriums uitgevoer. Die resultaat hiervan beskryf die grond se suurheidstoestand, die brakinhoud en die hoeveelhede van verskillende plantvoedingstowwe. Opsommend kan gesê word dat ontledings vir ons ’n idee gee van grond se vrugbaarheid.

Dit word byvoorbeeld gebruik om te bereken hoe om suurgronde deur kalking te verbeter of hoe om te bepaal hoeveel en watter soort bemestingstowwe vir plante toegedien moet word.

Grondmonsters word gewoonlik uit die bewerkte gronddiepte geneem. Vir groente en ander eenjarige gewasse is dit ’n diepte van 15 tot 25 sentimeter (ongeveer ’n graafdiepte). Elke monster moet ’n bepaalde akker of lappie grond verteenwoordig. U plaaslike voorligter kan vir u hieroor goeie advies gee. Hy is soms ook die beste persoon om die monsters by die laboratoriums op Elsenburg te besorg.

Vir meer inligting lees hier.

Nadat die ontledings uitgevoer is, word verslae aan die produsente gepos en ’n afskrif gaan ook na die voorligters, wat dit verder kan verduidelik.

’n Grondmonster moet uit sowat een kilogram grond bestaan en in skoon plastieksakkies verpak word. Volledige inligting moet aan die laboratorium verstrek word oor die gewasse wat verbou sal word en die beskikbaarheid van besproeiing.


Dit moet gestuur word na:
Die Ontledingslaboratoriums
Privaatsak X1
Elsenburg
7607

CP de L Beyers
ELSENBURG/Nitrophoska