Droogtevoeding: Praktiese wenke

Droogtes van variërende intensiteit is ‘n algemene verskynsel in Suid-Afrika, en meer as die helfte van die subkontinent is onderhewig aan periodieke droogtes. Die huidige droogte is egter een van die mees wydverspreide droogtes in Suid-Afrika in die onlangse tye.  Die handhawing van die status van die veldweiding, as goedkoopste bron van voeding vir herkouerproduksie, moet die basiese uitgangspunt  van ‘n droogtestrategie wees, alhoewel dit baie moeilik is om te handhaaf tydens rampdroogtes soos die huidige een. Die benadering tot droogtevoeding sal verskil  van streek tot streek en kan die vorm aanneem van aanvullende voeding tydens seisoenale droogtes, beskikbaarstelling van droogtebestande voergewasse in streke wat onderhewig is aan periodieke droogtes tot oorlewingsvoeding tydens rampdroogtes waar diere van die veld onttrek moet word tot onderhoudsvoeding waar kernkuddediere slegs genoeg voer ontvang om hulle liggaamsmassa te handhaaf of selfs net te oorleef. Die volgende praktiese wenke mag help met die besluitneming tydens rampdroogtes.

Voerbenodighede met kraalvoeding

Een 60-kg ooi benodig  ongeveer 1.5 kg droëmateriaal per dag om haar liggaamsmassa ten minste te handhaaf. ‘n Troppie van 100 ooie benodig dus ongeveer 55 ton voer per jaar.  Indien goedkoop /eie geproduseerde  voer beskikbaar is teen ongeveer R 2 000 per ton sal dit dus R 110 000 per 100 ooie of R 1 110  per ooi per jaar kos slegs aan onderhoudsvoer.   Indien die ooi in produksie is, praat ons van ten minste 2.3 kg droëmateriaal per ooi per dag en met ‘n prys van R 2 500 per ton vir voer kos dit dus R 2 100 per ooi per jaar slegs aan voer, sonder die voerkoste vir die lam.  Indien moontlik moet die getal diere wat dus ten volle gevoer moet word dus beperk word, anders kan die waarde/koste  van die voer die waarde van die diere oorskrei.

Koste en waarde van voer

Die totaal verteerbare voedingstof (TVV) en ruproteïen-inhoud van enkele van die belangrikste rou grondstowwe vir veevoer (100% droëmateriaal-basis) word in die onderstaande tabel weergegee.  Tydens droogtes is veral die energie inhoud (en dus TVV) van belang,  hoewel die ruprotein-inhoud ook ‘n belangrike rol speel in die koste van die voer.  Proteïen-tekorte kan egter in ‘n onderhoudsvoer met redelike  bekostigbate nie-proteïen stikstof (NPN in die vorm van byvoorbeeld ureum) aangevul word. Dit is dus belangrik om die waarde van die voer met die prys daarvan te vergelyk om ‘n ingeligte besluit te kan neem. Waar eie geproduseerde ruvoer ‘n belangrike bron van droogtevoeding mag wees, is dit moontlik dat dit beter mag wees om konsentrate as aanvulling in plaas van ruvoer aan te koop weens die hoë vervoerkoste van veral laegraadse ruvoer.

 

Voerbron TVV  (%) Ruproteïene (%)
Mielies 87.68 9.73
Lupiene 85.25 28.82
Gars 82.19 11.62
Mieliekoppe 78.63 10.26
Brouersgraan 74.40 21.10
Koringsifsels 71.88 14.99
Hawer 65.97 10.12
Lusernhooi 58.74 17.13
Hawerhooi 58.36 6.49
Garsstrooi 55.54 3.47
Mieliereste 53.85 5.16
Koringstrooi 45.45 2.51

Voedingstof behoeftes van diere

Produserende diere en jong groeiende diere het ‘n baie hoër voedingstof-behoefte as dié van diere wat slegs gevoer word vir onderhoud.  Verder moet dragtige diere ook ‘n hoër kwaliteit voer ontvang weens die beperking op die rumen agv die spasie wat die fetus in beslag neem.  Die volgende tabel gee die voedingsbehoeftes van onderskeidelik droë, dragtige en lakterende Suid-Afrikaanse Vleismerino (SAVM) en Merino-ooie weer.  Die energie-behoeftes van lakterende ooie is dus ongeveer 2.5 maal hoër en die proteïen-behoefte ongeveer 3 maal as dié van ‘n droë ooi.  Indien moontlik is dit dus noodsaaklik om die nageslag so gou as moontlik te speen sodat die ma kan oorleef.

Ras en status Droë material behoefte (g/d) TVV behoefte (g/ooi/dag) Proteïen behoefte  (g/ooi/dag)
Droë SAVM-ooi 1.2 kg 660 g 113 g
Dragtige SAVM-ooi 1.8 kg 1060 g 193 g
Lakterende SAVM-ooi 2.5 kg 1630 g 334 g
Droë Merino ooi 1.1 kg 610 g 104 g
Dragtige Merino ooi 1.7 kg 1000 g 184 g
Lakterende Merino ooi 2.3 kg 1500 g 319 g

Aanpassing vanaf die veld

Diere wat vanaf die veld of honger diere wat te vinnig aan hoë stysel diete blootgestel word vrek maklik agv asidose of suurpens. Dit is dus noodsaaklik dat die diere oor ‘n tydperk van ten minste 2 weke aangepas word deur die eerste week slegs 300 gram konsentraat plus hooi en die tweede week slegs 500 gram konsentraat plus hooi te voorsien.  Daarna kan die gekonsentreerde voer vrylik voorsien word. Dit is egter uiters belangrik dat die voer steeds goed gebuffer is deur voldoende insluiting van voerkalk, koeksoda of ander kommersïele buffers.  Indien die konsentraat-voere met hoë vlakke van stysel nie goed gebuffer is nie, sal die diere swak produseer en chroniese diaree hê.

Aanvang van droogtevoeding

Volgens Jacobs en Hayward  (1981) moet moet daar met byvoeding begin word voordat ooie in ‘n goeie kondisie meer as 15% van hulle aanvanklike massa verloor het.  

Voerbronne

Waneer daar nog genoeg ruvoer op die veld beskikbaar is, is dit lonend om die diere slegs van ‘n produksielek te voorsien wat daarop gemik is om die dier se rumen asook inname van weiding vanaf die veld te stimuleer.  Dit is ongeveer 5 maal duurder om diere intensief in krale te voer as waneer hulle op weiding onderhou word. Dit is belangrik dat genoeg vreetspasie toegelaat word waar diere intensief gevoer word. Waneer lekke voorsien word met ureum en groeistimulante  moet diere eers vir die eerste week skoon sout ontvang. Onderstaande tabel is ‘n voorbeeld van ‘n produksielek wat self gemeng kan word en daarop gemik is om die rumen en weidingsinname te stimuleer.

Grondstof Hoeveelheid in kg per ton
Graan (mielies/gars/hawer) 487
Oliekoekmeel (katoen OK/Kanola OK) 250
Sout 150
Ureum 35
Molassestroop/meel/poeier 25
Mono kalsium fosfaat 25
Voerkalk 20
Vitamien en mineral voermengsel 5
Voerswawel 2
Groeistimulante/ionofore Soos aanbeveel deur Veekundige

Alternatiewe voerbronne

Somtyds is alternatiewe voerbronne as droogtegewasse of as neweprodukte  van ander industrïe as veevoer teen billike pryse beskikbaar.  Onderstaande is  enkele van die alternatiewe voerbronne wat beskikbaar mag wees. Weereens sal vervoerkoste ‘n belangrike faktor wees met die gebruik van alternatiewe voerbronne, veral bronne met ‘n hoë voginhoud, omdat vir die vervoer van die vog/water ook betaal word. Om die werkilke voedingswaarde te bereken en met ander bronne te kan vergelyk, moet die voedingswaarde van die bronne eers op ‘n droë-basis bereken word. Dit word eenvoudig gedoen deur die nutrientwaarde van die voer te deel met die droëmateriaal-inhoud van die voer (bv indien die TVV van appelpulp 30%  is en die pulp 60% vog bevat, is die TVV op ‘n droë-dasis  30/0.4, met ander woorde 75% TVV op ‘n 100% droë basis.  Die vog of water gedeelte wat in die geval 600 kg per ton is moet egter in berekening met die prys van die voer gebring word. Indien die pulp byvoorbeeld R 500 per ton kos is die ware prys op ‘n droëmateriaalbasis R 1 250 per ton. Indien u van hierdie alternatiewe voerbronne wil gebruik moet u verkieslik ‘n veekundige raadpleeg om te verseker dat die insluiting van die voerbronne aan u spesifieke behoefte sal voldoen.

Hoendermis

Gesteriliseerde hoendermis word somtyds  vir onderhoud en in lekke van diere in droogtetye deur produsente gebruik.  Kuikenhokmis (15-16% ruproteine en 45% TVV op ‘n droë basis)  is ‘n beter produk om te gebruik as lêhenmis, omdat laasgenoemde gewoonlik te nat is. Volgens wet moet die hoendermis gesteriliseer wees (om skadelike organismes te dood) voor gebruik in dierevoeding, anders is die voer daarvan teen die wet. Hoendermis as veevoer (gewoon ongesteriliseerd) hou egter steeds risiko in wanneer dit vir diere gevoer word en eerstens moet diere ingeënt wees teen lamsiekte (clostridium botulinum) voordat dit gebruik kan word. Ander gevare is die teenwoordigheid van sekere ionofore of groeistimulate (bv maduramycin) wat dodelik kan wees vir alle herkouers asook te hoë kopervlakke vir skape. Verder kan toksienes agv swamgroei, weens hoë vog in die mis, aborsies by dragtige diere veroorsaak.  Voordat hoendermis in veevoer of lekke gebruik word behoort die produsent eers met ‘n veevoedingskundige te praat om seker te maak dat alle risikos in aggeneem is, om potensieel groot verliese te beperk.

Druiwedoppe

Druiwedoppe (13.3% ruproteïene en  32% TVV op ‘n droë basis) is geredelik beskikbaar in sekere dele van die Wes-Kaap naby groot wynkelders. Druiwedoppe kan met sukses as veevoer gebruik word en wit druiwedoppe is van groter waarde as rooi druiwedoppe weens die hoë vlakke van tanniene in rooi druiwe. Hoe meer sap uit die doppe gedruk is hoe minder waarde het die doppe (agv die suiker wat uitgedruk word). Druiwedoppe word goed deur herkouers gevreet en is oor die algemeen smaaklik.

 Sitrus pulp

Sitrus pulp (6-13 % ruproteine en 84-87% TVV op ‘n droë basis) is ‘n hoogsverteerbare en baie smaaklike voedingsbron vir herkouerdiere. Genoeg ruvoer moet beskikbaar wees indien sitruspulp vir baie lang tye aan diere gevoer word. Sitruspulp word ook met welslae ingekuil en indien vir redelike lang tye gevoer,  moet die kalsium:fosfor verhouding reggestel word. Weens die hoë energiewaarde van sitruspulp kan dit teen redelike vlakke in voere vir produksie diere gebruik word.

Aartappels

Uitskot aartappels (9-11 % TRP en 79 % TVV op ‘n droë basis) word soms aan diere gevoer. Aartappels is hoog in stysel en dus energie en vars aartappels bevat ongeveer 75-80% water. Aartappels word goed benut deur herkouers, maar moet verkieslik gekerf wees om verstikking by veral beeste te voorkom. Die voer van aartappels in laag geplaasde voerbakke of onder ‘n balk of kabel bo die diere se koppe by die voerbak help ook tot ‘n mate teen verstikking.  Aartappels wat uitgeloop het bevat gifstowwe (alkaloïedes) in die spruite en moet nie aan diere gevoer word nie.

Rosyne

Uitskot-rosyne (6-7% TRP en ongeveer 80% TVV op ‘n droëmateriaal basis) is  in sekere streke as neweproduk beskikbaar.  Rosyne  is hoogs smaaklik en hoog in energie wat hoofsaaklik in die vorm van suikers (tot 72%) beskikbaar is. Rosyne kan selfs in produksierantsoene gebruik word en kan tot een derde van die graankomponent in herkouerdïete vervang.  Die voedingswaarde van rosyne word op 75-80% van die waarde van mielies geskat.

Prosopis (Prosopis glandulosa/juliflora/velutina)

 Prosopis of muskietbome kom wyd verspreid in sekere dele van die land voor en is een van die belangrikste indringerplante in Suid-Afrika.  Een boom kan tussen 10 en 50 kg peule per jaar produseer. Die blare en groen peule (wat selfs skadelik kan wees vir diere) van die muskietboom is redelik onsmaaklik maar die ryp peule is hoog in suikers (ongeveer 15%) en baie smaaklik vir diere.  Ryp prosopis peule (10-12% TRP en 70-75% TVV) is redelik hoog in energie, maar die sade,  alhoewel hoog in proteïene (31-37%),  kan onverteerd deur die spysverteringskanaal van die dier beweeg en sodoende dien as bron van verdere verspreiding van die indringer plante.   Peule moet dus gemaal word voor gebruik en diere moet in gevalle waar heel peule gevoer word in kraal gehou word vir ten minste 10 dae om te verseker dat pitte nie buite die kraal versprei nie.

Turksvye

Turksvye (ongeveer 6% ruproteïene en 70% TVV op ‘n droë basis) is ‘n welbekende droogtebestande gewas en is vroeër in groot hoeveelhede in die droogte geteisterde gebiede van Suid-Afrika aangeplant. Turksvye blaaie kan saam met die nodige protein en vesel as onderhoudsdieet vir herkouer diere gebruik word. Turksvy-blaaie moet geprosesseer word (in stukke gekap) vir beter benutting. Waneer turksvy blaaie as enigste voerbron gebruik word kan dit lei tot diaree by diere.

Soutbosse

Alhoewel oumansoutbos tans as groep 2 onkruid verklaar is, omdat dit ‘n uitheemse gewas is, is byvoorbeeld net in 1984 in die Noordweste van Kaapland alleen byvoorbeeld 1 miloen soutbosplantjies aangeplant.  Oumansoutbos het ‘n redelike hoë voedingswaarde ( 15-20% TRP en 60% TVV op ‘n droë basis) en ‘n baie hoë drakrag.  Oumansoutbos is effe onsmaaklik weens die hoë natrium-inhoud, maar ‘n geharde plant met ‘n baie hoë potensiaal as veevoer.  Voldoende vars water moet beskikbaar wees vir diere wat soutbosse bewei.

Kitsgroenvoer

Reeds in die sewentigerjare is stelsels vir die produksie van kitsgroenvoer, maw graan (gewoonlik gars) wat vir ongeveer 7-dae toegelaat word om in bakke met baie watertoediening uit te groei, in Suid-Afrika bemark. ‘n Uitgebreide verslag uit Australië sowel as plaaslike werk in Suid-Afrika dui egter daarop dat die werklike totale voedingswaarde van die graanpitte min verander en meestal slegs akkumulasie van vog plaasvind. Swamgroei hou ook groot gevaar vir diere in en die stelsel word nie op grootskaal in diereproduksie gebruik nie. Dit is belangrik by kitsgroenvoer wat tot 85% vog bevat die werklike droëmateriaal produksie van die produk te bereken deur die vog/water se massa van die total voermassa af te trek. Waar die graanpitte dus ongeveer 900 kg per ton droëmateriaal bevat, bevat die kitsgroenvoer slegs 150 kg per ton droë materiaal.

Algemeen

Droogtevoeding is ingewikkeld en die produsent kom voor ‘n ingewikkelde reeks besluit te staan.  Alhoewel droogtevoeding  duur mag, wees behoort die produsent te probeer om sy basis kudde teen alle koste te behou.  Hierdie kernkudde ken die plaas en is reeds aangepas in die omgewing en op die spesifieke veld.  Na die droogte sal dit ook baie moeilik en duur wees om weer goeie gehalte teeldiere te bekom.

 

Prof Ters Brand
Direktoraat Veekundige Wetenskappe, Departement van Landbou:Wes-Kaap, Privaatsak x1, Elsenburg 7607
Tel 021-8085225
Epos: tersb@elsenburg.com